Moneyweb News

Andries van Zyl|

15 September 2011 06:57

Hoër Esjelon Potgooi: Jannie Mouton, Voorsitter van die PSG Groep

Interviewer Profile

  • Email Andries van Zyl
  • Article tools

    Download this interview
    Print article
    Send to friend

    Subscribe to a daily email of transcripts from Moneyweb Radio

      Subscribe now

    Andries van Zyl praat met Jannie Mouton oor sy heimat, die Groot Karoo, oor sy studentejare en sy toetrede tot die sakewêreld.

    - DOWNLOAD THIS INTERVIEW

    Andries van Zyl:  Dié Hoër Esjelon-insetsel word aan jou gebring deur Deloitte.  Vir innoverende denke en deeglike strategiese beplanning, gaan na Deloitte.  Moneyweb, wat verantwoordelik is vir die samestelling en aanbieding van RSG Geldsake, doen tans ’n uitgebreide potgooi-gespreksreeks met bekende sakelui.  Dié onderhoude, wat as mini-biografieë beskryf kan word, is getitel Hoër Esjelon.  Die gesprekke word in video- én klankformaat op die Moneyweb-webtuiste geplaas, terwyl klankgrepe van die onderhoude ook in RSG Geldsake-programme uitgesaai word.  Ons sake-gas in hierdie Hoër Esjelon-gesprek, wat op Maandag,12 September, opgeneem is, is Jannie Mouton, Voorsitter van die PSG Groep.  Jannie, goeiedag, en hartlik welkom by RSG Geldsake en Moneyweb.

    Jannie Mouton:  Goeiemiddag.

    Andries van Zyl:  Jannie, kom ons begin nou maar die verhaal daar by die begin, en waar het Jannie Mouton se lewensweg begin?

    Jannie Mouton:  Andries, ek is op ’n plekkie in die Karoo gebore, met die naam van Carnarvon.  Baie spesiaal nog steeds vir my, as ek praat van Carnarvon.

    Andries van Zyl:  Waar het jy op Carnarvon grootgeword: was dit in die sake-wêreld gewees, ’n plaasgemeenskap?

    Jannie Mouton:  My pa het ’n winkel gehad.  Ons was baie trots op die winkel, en ons het op die dorp grootgeraak.  Maar baie van my vriende en familie was op die plaas, so ek het die plaas ook baie goed leer ken.

    Andries van Zyl:  So, watter rigting het Jannie Mouton nou toe, van Carnarvon af, verder ingeslaan?

    Jannie Mouton:  Van Carnarvon het ek ’n jaar militêre opleiding gedoen in die vlootgimnasium, en toe’s ek na die Universiteit van Stellenbosch.  Watter lekker ervaring was dít nou gewees!

    Andries van Zyl:  Vertel vir ons van die Stellenbosch-dae: wat het jy gestudeer?  Was dit vir jou belangrik in sekere opsigte?  Het jy goeie vriende gemaak, kennisse, wat vandag dalk ook nog kennisse van jou is?

    Jannie Mouton:  Ja, dit is ’n wonderlike plek!  Ek dink ’n mens moet nie nét gaan om te leer nie, maar jy moet darem jou lewe só beplan dat jy deurkom in die jare wat jy móét.  So, ek het BCom gedoen en honneurs gedoen.  En ek het wonderlike vriende daar gehad, in die koshuis en in die klas.  Ek was bevoorreg om byvoorbeeld... GT was in dieselfde koshuis op dieselfde vloer as ek.

    Andries van Zyl:  Dis nou GT Ferreira, wat later betrokke was by die stigting van First Rand?

    Jannie Mouton:  Rand Aksep Bank, ja.  Ag, en ek kan hulle nou nie almal opnoem nie, maar dit was ’n wonderlike tyd!  Hulle is nog vandág my vriende, en so aan.  Ons hou nog gereeld ’n Simonsberg-reünie – dis die koshuis waarin ek was.  Dit is in elk geval die beste koshuis gewees op Stellenbosch!

    Andries van Zyl:  En toe, ná universiteit, toe begin jou beroepsloopbaan.  Watter rigting het dít jou gevat, en waarin bepaal daai rigting?

    Jannie Mouton:  Toe’t ek my klerkskap gedoen by... destyds was dit Cooper Brothers, vandag is dit PWC.  En ek het dít voltooi om ouditeur te raak, ’n CA.  En toe’t ek in die sake-wêreld ingegaan.  Eerste paar jare, sewe jaar, by Federale Volksbeleggings.  Dit was ’n wonderlike ervaring gewees!  En daarná, so hier en daar, dit en dat, en toe’t ek aandelemakelaar geraak in 1982, tot 1995.

    Andries van Zyl:  En dis natuurlik dáár by Federale Volksbeleggings wat jy destyds gefire is?

    Jannie Mouton:  Nee, nee, nee, dis eintlik by SMK.

    Andries van Zyl:  Vertel vir ons daardie storie, vir dié van ons wat nou nie die hele naam van “SMK” ken nie.  Wie was SMK?

    Jannie Mouton:  SMK was ’n maatskappy op die Beurs wat...  Dit staan vir “Senekal, Mouton en Kitshoff”, ons drie vriende het die besigheid begin.  En dit was ’n baie suksesvolle firma, as ek dit nou sélf mag sê.  Want ons het, toe ons begin het, was ons klein en ons het gegroei en gegroei.  Uiteindelik was ons in die omgewing van 20 vennote.  So, en ons het nogal gedink ons is “goeterig”!

    Andries van Zyl:  Wie’t ’n rol gespeel?  Voordat ons nou ’n bietjie verder praat, terwyl ons nog op daardie punt is, wie’t ’n rol gespeel, ’n rigtinggewende rol gespeel in jou beroepsloopbaan? Die keuses wat jy uitgeoefen het om bepaald hierdie rigtings in te gaan?

    Jannie Mouton:  Ek sou sê...  As ek moet terugdink, seker maar my pa, want hy’t vir my geleer dat niks kom verniet in die lewe nie, jy moet wérk daarvoor, en jy moet eerlik wees.  En hy’t my ook geleer van aandele.  Soos ek al geskryf het, dáár in die boek, en baie gesê het: hy het...  Ek moes die aandelepryse in die middae oor die radio vir hom luister, toe ek op skool was, want die winkel het eers so vyf-uur, ses-uur toegemaak.  En elke aand dan vra hy vir my: Wat’s dié aandeel se prys en dáái aandeel se prys?  Dan het ek dit onthou.  So, ek het al ’n lekker belangstelling in die beleggingswêreld gehad, sommer op skool.

    Andries van Zyl:  Nadat jy nou by Senekal, Mouton en Kitshoff weg is, baie járe later, het jy nou ’n boek gaan skryf wat onlangs bekendgestel is: En toe fire hulle my.  Ons gaan netnou praat oor dáárdie boek.  Ek wil net kom by die ander punt: nadat jy nou toe daai tyd gefire is, toe’t jy gegaan en uiteindelik het jy ’n sakeryk met die naam van PSG tot stand gebring, met ’n markkapitalisasie vandag van rondom R9 miljard, en ek dink die vraag wat ’n luisteraar sou vra as ons met Jannie Mouton praat, is: Hoe op aarde het jy dit reggekry om só ’n sakeryk te bou?

    Jannie Mouton:  As ’n mens nóú terugkyk, dan was dit maklik.  Maar die tyd wat ek werkloos was, was dit nié so maklik nie!  Ek moes my besig hou, en ek het gaandeweg besef: nét ek kan ’n verskil maak in my eie loopbaan en lewe.  So, met ander woorde, ek het tyd gehad, want ek was werkloos, ek het gesit en gedink, ek het besigheidsboeke gelees, en toe vir my ’n plan opgestel en ek het toe geglo in dié plan.  En dit het só uitgedraai.

    Andries van Zyl:  So, in ’n neutedop, wat was dié plan?  Hoe’t jy hom vorentoe gedink?  Hoe groot was hy in dáái stadium?

    Jannie Mouton:  Ek het gekyk wat is my sterk punte, my swak punte, en so aan.  Ja, want ek móét mos swak punte hê!  Ek is dan gevra om die diens te verlaat, en ek het besef: ek moenie ’n maatskappy bestuur nie, ek moet meer fokus op beleggings.  En ek het dáái tyd besef, en dis in my plan, ek wil ’n genoteerde maatskappy tot stand bring.  Genoteer, ja, ek het die omgewing verstaan, as aandelemakelaar, ek wil sodanige persentasie hê in die maatskappy, dat ek nie sómmer weer ’n verrassing kry een oggend, en dan sonder ’n maatskappy sit nie.  En ek het besef die waarde daarvan om goeie mense óm jou te betrek.  En ek het ook besef ek wil Stellenbosch toe trek, waar dit ’n kleiner opset is, waar jy tyd het om te dínk!  En nie net hier, waar jy in die verkeer vassit in Johannesburg nie.  So, en as ’n mens genoeg tyd het om te dínk, en jy dínk aan saketransaksies, jy dínk waarnatoe jy wil gaan, jy sít jou hand op papier, en as jou sakeplan...  Jy lê dit vir jou vriende voor, dan hét jy daai toewyding om dit reg te kry.

    Andries van Zyl:  Jannie, seer sekerlik kan ’n mens nie kom en/of bereik wat jy bereik het, met die PSG Groep nie…  Watter rol het kwessies, termes, soos innovasie, en veral entrepreneurskap gespeel, spesifieke entrepreneurskap-eienskappe, wat jy vandag sou uitsonder en sê: dís die eienskappe wat my help dra het, deurgedra het?

    Jannie Mouton:  Ek dink as ’n mens genoeg lees, jy moet nooit kreatiwiteit in ’n mens demp nie en jy moet mense, goeie mense, die geleentheid gee; jy moet hulle bemagtig, anders moet jy ál die werk doen!  So, jy moet glo aan mense, die régte mense...  vir hulle die geleentheid gee. En ek dink ’n mens moet nooit “Nee!” vir ’n antwoord vat nie.  As mense nie saamstem met jou nie, moet hulle ’n alternatief gee.  So, die mense by PSG weet al: hulle kan nie vir my sê “Nee, iets gaan nie werk nie”; hulle moet vir my ’n alternatief gee.  Daar is altyd ’n manier dat enigiets kan werk.

    Andries van Zyl:  Jannie, mens kry die indruk dat Jannie Mouton is ’n ware go-getter, ’n ware fetcher!  Dalk selfs ook ’n rateltaai ratel: hy los nie maklik waar hy vat nie.  Is dít soos wat Jannie Mouton is?  Hoe sou jy jouself beskryf?

    Jannie Mouton:  Ek dink ek is ’n verskríklike sagte mens.  En ek het baie deernis vir my familie, kinders, kollegas, en so aan.  Maar miskien, wat sake betref, is dalk my, party goed waar ek onwrikbaar aan glo: integriteit, deursigtigheid, eerlikheid en, as ek die waarde in ’n transaksie sien, dan sal ek volhard om ’n belang op te bou.  En miskien dink mense ek is daardeur miskien dwars, of...  Maar ek trap nie graag op mense se tone nie.

    Andries van Zyl:  Jannie, jy’t nou die bynaam hier in Suid-Afrika, trouens, ek dink daar is al ’n paar byname wat jy het!  Maar die een wat nou al uitstaan hier in Suid-Afrika is “Boere Buffet”, wat jy gekry het, verwys nou na die globale beleggingsghoeroe Warren Buffet.  Hoe voel jy oor die “Boere Buffet”-naam?

    Jannie Mouton:  Ek dink...  Ek dink dis mos verkeerd gespel, want ek’t gelees iemand spel hom as “Boere Buffel”!  So, ek dink dis hééltemal te verwaand om te dink jy’s in die gelyke van een van die wêreld se beste beleggers.  So, ek dink dis so ’n bietjie spottenderwys met my, dat dit meer ’n “Boere Buffél” is as ’n “Boere Buffet”!

    Andries van Zyl:  Jannie, kom ons praat oor jou boek wat vrygestel is, En toe fire hulle my. Hoekom het jy daai boek gaan skryf?

    Jannie Mouton:  Ag, ek is só bly jy vra dit, dat ek dit vir die héle land kan sê: ék het nie die boek geskryf nie, Carie Maas het hom geskryf.  Ek dink dis verwaand en arrogant om ’n boek oor jouself te skryf, terwyl jy in die lewe is...  As jy oorlede is, dan kán jy nie.  Maar Nasionale Pers Tafelberg het my meer as een keer kom sien, en kom sien, en ek het gedag miskien kan iemand iets leer, vernaamlik uit die... uit die lewenslesse, soos as jy gefire is (laat ons maar die Engelse woord gebruik), hoe om óp te staan.  Dit kán mos vir mense iets beteken in die lewe?  En daarom het ek ingestem.

    Andries van Zyl:  Nou kom ons kyk na daardie lewenslesse, want dit is die inligting wat mense soek; lesse waaruit hulle ook lesse kan leer.  Wat ís die lesse wat jy geleer het wat in daai boek na vore kom, wat ander mense dalk ook kan uit leer?

    Jannie Mouton:  Ek kry nou nogal vrae van onbekendes regoor die land oor dié spesifieke kwessie.  Ek dink, nommer 1, ’n mens is verward, onseker, verneder, jy’s kwaad.  Al daai emosies kom in jou voor.  En dan besef jy eendag: Man, net jy kan ’n verskil maak!  En dan, ek wil amper sê, jy moet jouself ontleed: wat kán jy doen, en wat kan jy nié doen nie?  Dan moet jy maar vir jou, soos ek nou nét gesê het, ’n plan skryf, en bespreek dit met jou vriende.  Sodra jy dit begin bespreek met jou vriende, jou familie, dán het jy al sekere vasberadenheid, dat jy dít kan bereik.  So, met ander woorde, ek het ’n kantoor by die huis oopgemaak.  Om tyd om te kry, het ek besigheidsboeke gelees, maar báie!  Dis waar ek kennis gemaak het met Warren Buffet. Ek het sy boeke gelees, opgesom en laat tik.  My vrou was my tikster.  So, met ander woorde, ek het dit as ’n geleentheid gesien om te studeer!

    Andries van Zyl:  Watse lesse, of wenke, of raad, advies, neem jy uit die Warren Buffett-boek?

    Jannie Mouton:  Die man se visie, hoe hy na beleggings kyk.  En ek dink dis een van die boustene van PSG.  Reg, ons het sekere maatskappye begin, noem dit “van die grond af gebou”, soos Capitec, en so aan, maar dan het dit... was daar sekere maatskappye wat daar wás, wat onderwaardeer was, ongenoteer was; belange gekoop, en ek het báie gou van hom geleer hoe om ’n maatskappy te waardeer en aan te slaan.

    Andries van Zyl:  Jannie, ek wil weer by die boek uitkom.  Die boek is nou al ’n paar maande te koop.  Watse reaksie kry jy dusver op die boek, hoe gewild is die boek?

    Jannie Mouton:  Andries, vir my is dit interessant hoeveel vriende, familie en mense wat ek glad nie ken nie, vir my persoonlike briewe skryf!  Dis eintlik partykeer aangrypend hoe ek nou kontak maak met mense wat ek verloor het.  So, dis vir my een gróót plesier, en ek wil graag vir hulle almal baie, baie dankie sê!  Dis onmoontlik om alles self te antwoord.

    Andries van Zyl:  Kom ons kyk na enkele ander aspekte van die lewe in die algemeen, voordat die tyd ons nou heeltemal inhaal.  Wat maak jou, in besonder, opgewonde van die alledaagse lewe, die beroepslewe?

    Jannie Mouton:  Ek is gedúrig op soek na nóg geleenthede; ja, geleenthede in die lewe, maar dit gee my ook plesier om iets goeds te doen.  En “iets goeds” beteken nie noodwendig geld gee vir ’n liefdadigheidsorganisasie nie; baie keer beteken dit ook tyd gee vir iemand wat raad nodig het. En ten minste elke dag van my lewe kom iemand vir my kuier wat oor sy léwe wil raad hê, nie oor geldsake nie.

    Andries van Zyl:  Jannie, die ander punt waarby ek wil uitkom, is entrepreneurs.  Kyk na entrepreneurs, soos die Jannie Moutons, die toekomstige entrepreneurs.  Enkele brokkies advies van jou kant af?  Hoe wil jy… Wat réken jy, wat moet ’n entrepreneur…  ’n goeie entrepreneur…  Wat soek jy in ’n goeie, jong entrepreneur, en wat soek jy nié in hom nie?

    Jannie Mouton:  Ek dink, nommer 1, hy moet ’n idee hê, en hy moet gló daaraan.  As jy nie gló jy sal ’n sukses maak nie, dan gáán jy nie ’n sukses maak nie.  So, toewyding, dan moet jy fokus, jy moenie rond en bont spring, dan dít en dan dát nie.  En ek sou sê dit is moeilik om ’n entrepreneur te raak vóór 30; ek dink amper tot 30 moet jy léér, jy moet studeer en leer en ’n bietjie ondervinding by ander maatskappye opdoen.  Ek het soort van ’n entrepreneur geraak toe ek 34, 35 jaar oud was, toe ons SMK begin het.  Vóór dit was ek nie ryp genoeg daarvoor nie.

    Andries van Zyl:  Wat is jou verdere gedagtes nou met die PSG Groep wat jy opgebou het, of oor die jare, tot dan nou die kapitaalkragtige Groep van rondom R9 miljard?

    Jannie Mouton:  Andries, ons sien voortdúrend baie geleenthede!  Ek dink die wonder is om geleenthede raak te sien.  Ek is byvoorbeeld baie opgewonde oor Curo, omdat onderwys en skool is baie, baie ná aan my hart.  En ons het ’n geleentheid, want die mense stroom in omdat ons kliënte, dit is nou skoolgaande kinders, so, waar die regering miskien ’n bietjie gefaal het, is daar ’n geleentheid vir ons.  En hulle spring op!  As jy genoeg dink, dan spring daar sulke geleenthede op.

    Andries van Zyl:  Net laastens, so in ’n minuut of wat, ’n slotgedagte van Jannie Mouton oor Suid-Afrika, die sake- en die politieke uitdagings?

    Jannie Mouton:  Dit is...  Ek wil nou dit só sê: baie keer dan sit ek by etes of sosiale geleenthede, as almal probeer ’n beter storie vertel hoe negatief dit in Suid-Afrika is, dán verveel hulle my!  Dan sê ek vir hulle: As julle só negatief is, emigreer!  Want ek is nie só nie!  Ek dink dis ’n land van geleenthede; daar is uitdagings, ja, en ons moet help om dit op te los, maar dis ’n wonderlike geleentheid!  Die laaste 15 jaar, 17 jaar wat Suid-Afrika...  Ons het gewórstel!  Ja, ons moet sekere goed van die verlede afgeskud het, maar ék is hier om te bly, en óók van Suid-Afrika ’n beter plek te maak.

    Andries van Zyl:  Jannie, baie dankie vir jou tyd en baie dankie vir die gesprek!  Namens RSG Geldsake, en dan ook Moneyweb, wat verantwoordelik is vir die samestelling van RSG Geldsake en, behalwe nou vandag se gesprek, al die ánder gesprekke wat ons so van tyd tot tyd met jou het hier oor die beleggingswêreld, hier óp RSG Geldsake, baie dankie vir jou bydrae en die bereidwilligheid, dat jy altyd, áltyd gewillig is om jou kennis met ons te deel, met ons luisteraars, en die inligting waaroor jy beskik.  Baie dankie daarvoor, en nogmaals baie dankie dat jy vandag by ons kom kuier het!

    Jannie Mouton:  Andries, dit is báie lekker, want ons van die Groot Karoo het altyd ’n bietjie gedink ons is ’n biétjie beter as die mense van Garies, wat eintlik daar in Namakwaland lê!  Dis lekker om jou te ontmoet en om met jou te gesels.

    Andries van Zyl:  Dit was heerlik, van my kant, as ’n Gariesiet, ’n Namakwalander, om met iemand daar van die Groot Karoo, van Carnarvon se wêreld, te praat.  Voorspoed, alles van die beste, Jannie!

    Jannie Mouton:  Baie dankie, Andries.

    The SAfm Market Update with Moneyweb is broadcast on SAfm 104-107fm, weekdays at 18:00 to 18:30.
    Site comments powered by Disqus
    JSE Today
    All Share
    Daily indicators
    Winners & Losers
    All share

    Blogs

    Sasha Planting

    Two RAs worth looking at

    10X Investments and Sygnia Financial Services compared.

    What to do when your retirement planning fails

    What if you don’t have enough money saved to retire?

    Retirement advice should come with an age restriction

    And the term ‘golden years’ banned.

    NEXT ON MONEYWEB X