Moneyweb News

04 April 2012 23:01

Hoër Esjelon Potgooi: Werner de Jager - uitvoerende hoof, Cashbuild

Interviewer Profile

  • Email Andries van Zyl
  • Article tools

    Download this interview
    Print article
    Send to friend

    Subscribe to a daily email of transcripts from Moneyweb Radio

      Subscribe now

    Andries van Zyl gesels met Werner de Jager, uitvoerende hoof van Cashbuild Beperk.

    - DOWNLOAD THIS INTERVIEW

    Andries van Zyl:  Dié Hoër Esjelon-insetsel die word aan jou gebring deur Deloitte.
    Vir innoverende denke en deeglike strategiese beplanning, gaan na DeloitteMoneyweb, wat verantwoordelik is vir die samestelling en aanbieding van RSG Geldsake, doen tans ’n uitgebreide potgooi-gespreksreeks met sakeleiers.  Die onderhoude, wat as mini-biografieë beskryf kan word, is getitel Hoër Esjelon.  Die gesprekke word in video- én klankformaat op die Moneyweb-webtuiste geplaas, terwyl klankgrepe van die onderhoude ook in RSG Geldsake-programme uitgesaai word.  Ons gas in hierdie Hoër Esjelon-gesprek, wat op Woensdag,
    4 April 2012, opgeneem is, is Werner de Jager, uitvoerende hoof van die Cashbuild-kleinhandelboumaterialeverskaffingsgroep.  Werner, goeiedag, en welkom by RSG Geldsake.

    Werner de Jager:  Middag Andries, dankie!

    Andries van Zyl:  Gee net so vir die begin vir ons ’n kort samevatting van die maatskappy: wanneer gestig en waaruit bestaan sy sakebedrywighede tans?

    Werner de Jager:  Andries, Cashbuild het so net bietjie meer as 30 jaar gelede begin in King William’s Town, eerste winkel oopgemaak, meer gefokus op groothandel.  En sedertdien ontwikkel in ’n ware kleinhandelaar van boumateriaal: sement, bakstene, dakteëls, dakkappe, enige van dié tipe goeters wat ’n ou gebruik om ’n huis te bou, die basiese benodigdhede en die goeters wat binne-in die huis ingaan, soos baddens en al die tipe krane, al daai goeters.  En ons is in ’86 op die aandelebeurs genoteer.  En sedertdien gegroei tot 191 winkels wat ons vandag het; R6 miljard se omset in ’n jaar en 4 500 mense wat vir die organisasie werk.

    Andries van Zyl:  Nou kom ek en Werner de Jager gee vanmiddag ’n paar treë terug; ons gaan vat jou lewe daar by gebore, grootgeword en gestudeer.

    Werner de Jager:  Andries, dis ’n baie eenvoudige storie: ek is in Kemptonpark gebore, op 6 Oktober 1970, en ek bly sedertdien nog steeds in Kemptonpark al die jare!  Ek het daar skoolgegaan, gematrikuleer in ’88 by die Hoërskool Kemptonpark, toe by wat vandag die UJ is, by RAU gestudeer, my BCom-kwalifikasie gekry, en my GR-eksamen gedoen.  En in ’93 gekwalifiseer as ’n geoktrooieerde rekenmeester, klerkskap by wat nou PwC is gedoen, in daai tyd nog Coopers & Lybrand.

    Andries van Zyl:  Enige bepaalde rede waarom jy in daai rigting gaan studeer het, Werner?

    Werner de Jager:  Andries, dit was maar altyd nog ’n belangstelling van my gewees; ek dink dit loop in ons familie!  So, daar is maar ’n baie groot belangstelling in die finansies-kant.

    Andries van Zyl:  Nou, ná die studiejare, en die kwalifikasies wat jy gekry het, hoe’t jou beroepsloopbaan toe ontwikkel?

    Werner de Jager:  Andries, soos ek gesê het, ek het my klerkskap gedoen by Coopers & Lybrand, van 1993 af en ek het my klerkskap daar voltooi en toe’t ek die besluit geneem om aan te bly daar en nie noodwendig, soos baie van die mense maak, uit te gaan in die sakewêreld in nie.  Ek het daar gebly en vordering gemaak binne-in die organisasie en baie goeie blootstelling gekry.  Ek is ingedeel in die belangegroep wat kyk na kleinhandel en het baie blootstelling daar gekry.  Soveel so dat ek gevorder het tot op ’n geassosieerdedirekteursvlak in die organisasie.
    En van daar af het my pad met Cashbuild s’n gekruis, waar dit my oudit geword het.

    Andries van Zyl:  Nou kom ons praat oor jou Cashbuild-jare.  Dit het hier vroeg in die huidige eeu begin, as ek reg is, rondom 2004, omtrent?  Hoe’t jy by Cashbuild beland, en waar’t jy by Cashbuild begin?

    Werner de Jager:  Andries, soos ek gesê het, my pad het eintlik al in 2000 met Cashbuild s’n gekruis, toe ek die oudit by Cashbuild begin doen het.  En ek het vir omtrent vier jaar die oudit daar gedoen, waarna die groep my genader het om as finansiële direkteur ’n pos te aanvaar.  En ek het toe op 1 Desember 2004 as finansiële direkteur by die groep aangesluit.

    Andries van Zyl:  Nou kom ons praat dan nou oor jou jarelange, eintlik persoonlike bondgenootskap wat jy met Cashbuild gehad het.  Jy’t gesien hoe Cashbuild as ’n maatskappy van krag tot krag ontwikkel het.  Hoe’t julle dit vermag?

    Werner de Jager:  Andries, dit klink soos ’n geykte uitdrukking, maar baie harde werk en lang ure en goeie leiding en goeie leierskap van ons vorige uitvoerende hoof, wat baie goeie visie gehad het en baie goeie strukture in plek gesit het, maar aan die einde van die dag is dit ’n spanpoging.  Ons het baie probleme gehad en ons het baie foute gemaak, maar die groot ding wat ons gedoen het, is: ons was nie bang om ’n fout te maak en ’n besluit te neem nie.  Dit was hoe vinnig ons die foute wat ons gemaak het, reggestel het, wat dit suksesvol gemaak het.  En ons het bly fokus op kerndinge, ons het nie probeer om te veel verskillende besighede oop te maak nie. Ons het een besigheid wat ons weet wat ons doen.  Ons het daarop gefokus en ons het dit elke dag oor en oor gedoen.  Elke dag dieselfde ding: seker gemaak dat ons aanhou nuwe winkels identifiseer en aanhou om daai groei toe te pas.  En altyd te verbeter aan die swakste ding wat daar in die groep is.  En dít reg te stel, en só die geheel beter te kry.

    Andries van Zyl:  En Werner de Jager nou; wat was vir jou persoonlik die grootste uitdagings in die groeitydperk?

    Werner de Jager:  Andries, die dag toe ek by die groep aangesluit het, het hulle pas ’n nuwe IT-stelsel ingesit, wat redelik baie pyne veroorsaak het.  En dit was vir my een van my grootste uitdagings in my loopbaan tot nou toe, was om al die goeters, die eier wat bietjie uit die dop uit was, weer terug te probeer kry in een formaat in en van die goeters te probeer ontrafel en reg te stel.  En dit was regtig ’n moeilike tyd wat ons deurgegaan het.  Waar ons in stadiums oorweeg het om die maatskappy van die notering af af te haal, omdat ons so gesukkel het om ons resultate uit te kry en na te gaan.  Maar dit was ook vir my een van die beste oomblikke gewees toe ons die ding bymekaar kon gekry het en met ’n ongekwalifiseerde stel resultate kon uitgaan, en die ding in plek sit.  Dit het aanmekaar ure geverg en baie dink en baie beplanning, maar aan die einde van die dag was dit baie suksesvol en baie bevredigend gewees.

    Andries van Zyl:  Jy het netnou verwys, Werner, na wat julle rég gedoen het om vir Cashbuild te maak werk in dié hele groeiproses.  Wat het jy self, as ’n sakeleier, wys geword uit wat julle gedoen het?  Wat het julle gedoen wat jou kennis en vir jou as mens verryk het?

    Werner de Jager:  Andries, die groot ding is basies die manier van hoe ’n mens nooit goed moet oorkompliseer nie.  ’n Mens is geneig om, veral nadat jy studeer het en, soos mens nou sê, baie boekkennis het, om partykeer ’n probleem baie, baie meer kompleks te maak as wat hy werklik is.  Die tyd by Cashbuild het my geleer om dinge af te breek in kleiner komponente en in basiese goeters, in goed wat elke ou kan verstaan, en dit te hanteer, stukkie vir stukkie, uiteindelik.  En nie noodwendig te probeer hierdie groot antwoord te kry nie, maar elke bietjie dra by en ek dink dis iets wat in enige kleinhandelsorganisasie jou strydleuse  moet wees.  Bespaar R1 000 in 190 winkels en dit tel op, maar mórs R100 en dit tel ook op!  En dis wat ek geleer het: jy moet by daai detail bly en jy moet altyd seker maak dat jy ’n ding verstaan en sorg dat jy nie hom 90% oplos nie, maar dat jy hom 100% oplos, dat hy nie weer terugkom om jou te byt nie!

    Andries van Zyl:  Jy het nou verwys na regte besluite wat julle oor die jare geneem het.  Jy’t ook verwys, baie vlugtig melding gemaak, van besluite wat nie altyd die regte besluite was nie. En dis ’n bekende feit dat mense in maatskappye behoort ook uit hulle foute te leer.  Bepaalde foute waaruit Cashbuild oor die jare geleer het?  Bepaalde foute waaruit Werner de Jager geleer het?

    Werner de Jager:  Andries, daar’s baie kleiner foute, daar’s gelukkig nie een massiewe fout wat ek kan vat nie, maar ’n voorbeeld wat ek kán gebruik, is: ons het in ’n stadium, hier in 2006, besef dat ons pryse is mededingend, maar ons is nie mededingend wanneer die produk by die mense se huise uitkom nie.  En toe’t ons besluit om ’n gratis afleweringsdiens in te stel.  En ons het tien teen een nie...  Of, van agterna beskou, definitief nie genoeg beplanning rondom die besluit gedoen nie.  En ons het daai jaar redelik baie kostes opgetel met die aflewering, wat hand-uit geruk het.  En weer eens het ons baie geleer daaruit in terme van dat daar wél mense gaan kom, van ver plekke af, wat vra dat jy, alhoewel hulle ’n winkel daar het, hulle by die winkel aan die Rand, waar die pryse miskien goedkoper is, dit wil afgelewer hê, 200 kilometer daarvandaan.  So, ons het die stelsel bietjie reggemaak en ons het die vrugte gepluk daarvan, maar dit het redelike pyn veroorsaak vir ons vir ’n ruk en ons moes dit aanspreek.

    Andries van Zyl:  Werner, die verskil tussen oorlewing of finansiële welvaart, dat ek dit só stel, vir ’n bepaalde maatskappy, of ondergang: dié berus grotendeels op die verskaffing van óf ’n wenproduk óf ’n verloorproduk.  Hoe’t julle seker gemaak dat julle dan op die voorpunt bly van die verskaffing van ’n wenproduk?  Hoe’t julle geweet julle produk is reg?

    Werner de Jager:  Andries, daar’s sekere behoeftes in Suid-Afrika in terme van behuising en mense wat hulle huise wil verbeter.  En dis een van die primêre behoeftes van enige mens.  En ons produk en die manier hoe ons dit na die gemeenskappe toe vat, en na die mense toe vat, het ons geweet dis ’n produk wat ons definitief ’n wenresep mee het.  En dis hoekom ons verander het van ’n groothandelsopset na ’n regte kleinhandel toe, waar jy in ons winkel kan instap, ’n sak sement van die rak afhaal en hom in jou kar laai, nadat jy by die winkel uitgegaan het en betaal het vir die sak sement.  En ons het geleer met dit dat daai resep werk vir ons en ons het, toe ons besef het ons het die resep wat werk, het ons by die resep gebly.  En ons het nie probeer die resep verander nie; ons het goed rondom die resep bygesit, soos ons het modelle gebou, besigheidsmodel van dís wat ons wil bereik, en ons het elke dag goeters gemeet teen daai model. So, ons het ’n standaard gehad wat ons weet: dís die resep!  En ons het elke een gemeet teen daai resep.

    Andries van Zyl:  Sterk mededingendheid is van kritiese belang vir finansiële oorlewing en finansiële welvaartskepping vir ’n maatskappy soos Cashbuild.  Wat doen julle om te verseker dat julle op die voorpunt van mededingendheid bly?

    Werner de Jager:  Andries, ons het baie beleide en prosedures in plek waar ons kyk na ons besigheid, baie meer op ’n mikrovlak.  Ons probeer nie die besigheid bestuur van ’n hoofkantoor, af, of soos in ons geval, dit ’n ondersteuningskantoor noem, af bestuur nie.  Elke liewe winkel moet meeding in sy mark.  En elke liewe winkel se mark is verskillend, as jy gaan kyk daarna. So, dis nie ’n kwesie van “one size fits all”, as ek dit só kan gebruik nie.  Dis ’n kwessie van elke winkel verstaan wie sy kompetisie is en teen wie hy meeding; wie sy mark is en wie hy moet aanspreek.  En hy moet sy planne maak en ons het hulle ’n sekere vlak van outonomiteit gegee om wél dit te kan doen.  En te kompeteer op daai vlak.

    Andries van Zyl:  Kom ons praat meer oor die persoon Werner de Jager.  Wat is jou sakefilosofie?  Jou sakebenadering?  Het jy ’n sakerolmodel op wie jy jou doen en late skoei?

    Werner de Jager:  Andries, ek het vroeër genoem van ons vorige uitvoerende hoof wat definitief baie te doen gehad het met my uitkyk en my filosofie oor sake en oor besigheid.  En ek sou sê dat hy speel ’n belangrike rol in terme van daai vorming.  My filosofie bly: ’n ou moet elke dag jou beste lewer in wat jy doen.  Maar jy moet ook nooit jou langertermyn-visie uit die oog verloor nie.  Nou vir my, en etiek en besigheidsetiek in die hele proses, kom baie daarin.  ’n Ou is baie keer gekonfronteer met geleenthede en goeters wat kan gebeur.  Aan die einde van die dag moet ’n ou gaan terugstaan en elke keer gaan kyk: pas dit in jou verwysingsraamwerk en is dit eties in terme van ons besigheid?  En ’n ou moet alles daaraan meet, en voortgaan op daai basis.

    Andries van Zyl:  Werner, jy’s ’n opgeleide geoktrooieerde rekenmeester, soos wat ons vroeër in die gesprek gehoor het, wat nou in die posisie staan as uitvoerende hoof van ’n maatskappy. Sommige mense beweer tog te dikwels dat rekenmeesters anders as maatskappyhoofde dink en doen.  Is dit inderdaad die geval?

    Werner de Jager:  Andries, dis ’n gedagte wat al ’n paar keer ter sprake gekom het!  Ek dink, vir my persoonlik, ’n geoktrooieerde rekenmeester, deur sy opleiding en die roete wat ek gevolg het, het ek vreeslik baie blootstelling gekry aan maatskappye en hoe hulle bestuur word, want jy word blootgestel aan die uitvoerende hoofde en die hoof-, hóófmense in maatskappye in jou doen en late elke dag, deur daai proses te gegaan het.  En jou opleiding is baie besigheidsgeoriënteerd.  En wat dit maak, is ’n ou het daai finansiële agtergrond om ’n besluit te kan, nie net oorweeg op grond van hoe dit lyk nie, jy kan ook bietjie die finansiële aspek in jou kop uitklaar voordat jy daai besluit neem.  So ek persoonlik dink dit gee ’n ou die ondervinding en die agtergrond wat ’n ou nodig het om beide van daai aspekte te kan hanteer.  En aan die einde van die dag dink ek dis ’n baie goeie resep om suksesvol te wees.

    Andries van Zyl:  Hoe moeilik, of dalk, hoe maklik was dit vir jou om uit die rekenmeesters-DNA uit te breek na die DNA van uitvoerende hoof?

    Werner de Jager:  Andries, ek het so ’n jaar se oefening gehad!  Ek het wegbeweeg van die finansiëledirekteur-posisie af na bemarking en aankope toe.  Nou, bemarking en finansies is tien teen een nóg verder uitmekaar uit as uitvoerende hoof en finansies van mekaar.  So, ek het so ’n jaar se tyd gehad wat ek kon wegkom van die finansies af om my fokus reg te kry oor waaroor die besigheid gaan.  Weer eens, soos ek sê, ek het ’n deel van my oudit van Cashbuild het ek baie tyd in winkels gespandeer en die geleentheid gekry om te verstaan hoe werk die besigheid.  En in Cashbuild is ’n finansiële direkteur baie meer operasioneel as wat dit in ander maatskappye is. Daar’s nie soveel tegniese aspekte nie.  ’n Mens is baie meer betrokke by die dag-tot-dag-bedrywighede.

    Andries van Zyl:  Werner, jy’s nou sedert November verlede jaar uitvoerende hoof van Cashbuild.  Watse beroepsuitdagings wag nou vorentoe vir Werner de Jager?

    Werner de Jager:  Andries, Cashbuild het besonder goed gevaar in terme van die eerste plek die afgelope tien jaar op die aandelebeurs in terme van aandeleprestasie.  Ons het konstant bly groei. Daar was een halfjaar, of een jaar in die tien jaar wat ek betrokke is, wat ons nie groei op die winslyn getoon het nie.  So, dis ’n moeilike taak wat vir my voorlê, om seker te maak dat ek die maatskappy se goeie leierskap wat hy gehad het, en die goeie visie en die fokus wat ons gehad het, bly voortbou.  En bly voortbou op die sukses wat ons behaal het. sodat ek nie die maatskappy noodwendig terugvat na waar ons begin het nie, maar dat ek verder uitbou en verder bou op die sukses wat ons behaal het.

    Andries van Zyl:  Waarheen is Cashbuild onder bestuursleiding van Werner de Jager op pad? Op die pad wat jy nou stap, is daar vernuwing vir julle in die pyplyn?

    Werner de Jager:  Andries, nie op die kort termyn nie.  Deel van só ’n verandering is ’n periode van konsolidasie wat ’n ou moet mense gerusstel en ’n ou moet jou span hersaamstel.  Dit is moeiliker in ’n geval waar ’n ou kollegas was van interne afkoms.  ’n Ou moet eers daardie dinge alles in plek kry.  So, daar’s nie ’n groot verandering op kort termyn wat op daai vlak kom nie.  Ons het, soos ons vroeër gepraat het, ’n wenresep.  En daar’s nog baie geleentheid vir daai resep om neerslag te vind in ander dorpe, in ander plekke, waar ons nog winkels kan uitbou.  En ons glo ons kan baie maklik by 300 winkels uitkom.  Ons het tans 190, so, daar’s nog baie werk om te doen in terme daarvan.  En dan, later sal ’n ou begin oorweeg of ’n ou verder moet kyk buite die huidige grense waar ’n ou besigheid doen.  As ’n ou op ’n punt kom waar jy versadiging bereik, gaan ’n ou moet kyk na ander markte en kyk hoe ’n ou die besigheid dan na die volgende vlak toe kan vat.

    Andries van Zyl:  Baie dankie vir die gesprek!  Dit was Werner de Jager, die uitvoerende hoof van die Cashbuild-kleinhandelboumaterialeverskaffingsgroep.  Werner, baie dankie dat jy kom kuier het hier by RSG Geldsake.  Voorspoed tot anderdag, dan praat ons weer geldsake en ons praat weer Cashbuild-geldsake!

    Werner de Jager:  Baie dankie, Andries!

    Andries van Zyl:  Dié Hoër Esjelon-insetsel die’s aan jou gebring deur Deloitte.  Vir innoverende denke en deeglike strategiese beplanning, gaan na Deloitte.

    The SAfm Market Update with Moneyweb is broadcast on SAfm 104-107fm, weekdays at 18:00 to 18:30.
    Site comments powered by Disqus
    JSE Today
    All Share
    Daily indicators
    Winners & Losers
    All share

    Blogs

    Sasha Planting

    Yours, mine and ours

    Look before you leap into a second marriage.

    Felicity Duncan

    A proven way to boost the national savings rate

    A new study shows how a simple intervention can boost savings rates.

    Sasha Planting

    Two RAs worth looking at

    10X Investments and Sygnia Financial Services compared.

    NEXT ON MONEYWEB X