Die bemagtiging van vroue in SA landbou

Daar’s by AgriSA groot fokus op bemagtiging, om mense die geleentheid te kan gee om kennis te kry, maar ook om ander te kan help – Elize van der Westhuizen, Senior Bestuurder: Arbeidsverhoudinge by AgriSA.

ANDRIES VAN ZYL: Goeiedag Elize.

ELIZE VAN DER WESTHUIZEN: Goeiedag.

ANDRIES VAN ZYL: Elize, van waar die skuif vir die bemagtiging van vroue in SA landbou?

ELIZE VAN DER WESTHUIZEN: Weet jy, ek dink die omgewing waarin mense vandag keuses maak eerstens vir ’n beroep, het baie verander, destyds was dit ’n mansgedrewe sektor. In Afrika is dit ’n vrouegedrewe sektor, en ek dink in Suid-Afrika is die fokus ook besig om te swaai na vrouens toe. Die vrouens sien dit ook as ’n besigheid wat hulle wil bedryf, en ’n beroep waarin hulle wil gaan. So dis belangrik vir transformasie van die sektor. Transformasie gaan nie net oor ras nie, dit gaan nie net oor geslag nie, dit gaan ook oor ’n klomp goed wat mens anders wil doen in die toekoms. Nou van ons kant af wil ons dit op ’n paar vlakke anders doen. In Afrika weet ons die rol van die vrou lyk anders as in Suid-Afrika, organisasies soos SACAU het ’n groot fokus op die vestiging van vroue in landbou in Afrika, hulle het oor die laaste twee jaar groot kongresse gehou oor die rol van die vrou in landbou binne Afrika, en daar word ook van Suid-Afrika se kant af insette gelewer oor hoe sien ons dit, wat moet anderster gebeur en hoe lyk die rol vorentoe. Dan is dit ook die rol van vrou as boer, as besigheidspersoon in landbou, waar daar ook al hoe meer ’n fokus is oor hoe kan daai mense bemagtig word. In die laaste paar jare, in die wildsbedryf, was die laaste twee boere van die jaar vrouens gewees. Tania Kaiser en Ellalien Davey het daai kategorieë gewen, so daar’s toenemend vrouens wat toetree tot hierdie sektor en wat ’n sukses daarvan maak.

ANDRIES VAN ZYL: Die bemagtiging van vroue in Suid-Afrikaanse landbou kan party mense dalk verkeerd verstaan, en dink dit is beperk tot vroue wat wil boere word. Dit strek baie wyer as dit.

ELIZE VAN DER WESTHUIZEN: Dit strek definitief wyer as dit. Dit gaan ook oor die rol wat vrouens speel in landelike ontwikkeling. Nou ’n vrou se tradisionele rol, as ons nou teruggaan na die stereotipe toe, is maar die versorger, en ons sien al hoe meer in die platteland is daar ’n agteruitgang van die rol van die versorger. En daar’s al hoe meer ’n behoefte, van skoolvlak deur tot waar vrouens hulle nou as besigheidsvrouens vestig. Nou wat ons ook die laaste ruk begin doen het, is om te kyk na die bemagtiging van vroue in die landelike gebiede om dan as besigheidsvroue na vore toe te kom. En dis nie net om te gaan boer nie, maar ook om ander besighede te ontwikkel sodat hulle amper die werkgewers van die toekoms word. Een so projek wat ons nou onlangs gedoen het, was ’n proefprojek wat ons gedoen het in die Keimoes Friersdale omgewing. Na afloop van die 2013 verhoging van die minimum loon, daai 52% verhoging, het ’n klompie mense hulle werk verloor en baie daarvan was ongelukkig vrouens. En wat ons daar probeer doen het, was om daai mense wat voorheen in die werksmag gestaan het, maar wat beperkte vaardighede het, te gaan ontwikkel en vir hulle entrepreneurskapvaardighede te gee sodat hulle hul eie besighede kan begin. En ek moet sê, die uitkomste van daai opleiding is ongelooflik. Dit wat ons sien wat in daai omgewing besig is om te gebeur, is net wondelik. Dit wys jou dit is wat ’n mens moet doen, en dit het ook ’n impak op die gesin en dit het ook ’n impak op die kinders veral. Want die kinders begin nou te sien dat ma leer, en ma raak die leier, en ma doen ’n klomp goed, en ons wil graag almal ’n rolmodel hê en die ma raak die rolmodel. So die bemagtiging van vroue in die landelike omgewing raak ’n groot fokuspunt in wat ons tans besig is om te doen.

ANDRIES VAN ZYL: Daar’s geruime tyd nou reeds prosesse aan die gang om vroue te bemagtig. Gee vir ons enkele aanduidings van die vordering wat reeds gemaak is.

ELIZE VAN DER WESTHUIZEN: Ja, ek het nounet bietjie melding gemaak van die opleiding wat ons gedoen het in die Noord-Kaap, so daar’s ’n klomp nuwe besighede wat tot stand gekom het, en daar’s vroue wat op sekere vlakke ingekom het en werk gaan begin doen het vir landboubesighede, so in die waardeketting ook. Maar dan begin daar ook al hoe meer ’n fokus kom van hoe trek ons vrouens in strukture in, hoe bemagtig ons vroue om ook in leierposisies in te gaan. Ons het verlede jaar ook begin om nuwe toetreeders tot die mark, tot die landbousektormark, basies deur entrepreneurskap opleiding te gee sodat hulle kan leer hoe om hul eie besighede te kan bestuur. Jou tipiese vaardighede soos finansiëlebestuur, hulpbronbestuur, daai tipe van goed het ons al aan hulle begin oordra. En ’n groot gedeelte van daai mense wat deelgeneem het, was vroue. So ons probeer al hoe meer vroue intrek op alle vlakke waar ons bemagtiging doen, en nie net te fokus op dit wat mans nodig het nie.

ANDRIES VAN ZYL: Daar’s ’n wye veld wat gedek word deur vrouens, jy’t verwys na die wildboere wat so uitstekend doen, daar’s ook ander vroueboere op ander plekke wat in ander opsigte by boerderye betrokke is, behalwe vir wat jy al genoem het. Daar’s byvoorbeeld vroueveeboere, hoenderboere – daar was selfs op ’n stadium ’n vroue krokodilboer – daar’s vroue wynmakers, daar’s vroue wynproeers en dalk nog wyndrinkers ook (lag), jy kan self nog ’n paar interessantes bysit. Dis ’n onsettende wye veld wat nou al gedek word waarby die vrouens al by betrokke is.

ELIZE VAN DER WESTHUIZEN: Ja, verseker. Ek dink nou spesifiek aan Marietjie Jacobs wat tans die visiepresident is van Agri Gauteng. Sy boer in eie reg, sy boer met beeste en skape en wild. En elke keer as mens met hierdie vrou praat, is daar nuwe goed wat sy wil doen. Maar buiten vir die boerdery, is dit interessant om te sien wat hulle op die sosiaal-maatskaplike gebied begin doen – in hulle gemeenskap met vrouens wat vir hulle werk of met gesinne. So die vrou se rol is baie divers, en daar’s ’n klomp suksesverhale wat tans in landbou nie genoeg erkenning kry nie, maar die goed is besig om te gebeur. En dis verblydend om te sien dat daar soveel belangstelling is by vrouens om te kyk na die veranderde rol van die vrou, en om daai spasie te vat dan. AgriSA gaan vanjaar by hulle kongres ’n parallelle sessie hê wat fokus op die rol van die vrou en die ontwikkeling van plaaslike en landelike gemeenskappe, en tipies het hierdie opleidingsprojekte, ontwikkelingsprojekte, die ontginning van markte vir mense wat handwerk wil doen, ’n klomp sulke tipe van goed kan dan bespreek word. Maar dan die ander ding dan ook wat ons daar wil indra, is wat is die rol van die vrou in die familieboerdery-omgewing. Tradisioneel was dit maar die administrasie van die boerdery, maar al hoe meer begin die vroue toetree tot die bemagtigingsagenda en hoe hulle die lewens van mense raak. Ek dink vrouens in landbou het ’n klomp verskillende rolle wat hulle speel, daar’s nie net een wat reg is nie. Ek dink alles het ons nodig en ek dink op verskeie vlakke moet ons ’n verskil maak. 

ANDRIES VAN ZYL: Daar’s ook nou net om die lysie nog meer interessanter te maak, daar’s ook vroue landbouekonome waarvan ek weet, daar’s ook vroue gekwalifiseerde rekenmeesters wat boekhouding op plase doen – alles betrokke by landbou. Maar voor ons nou verder gaan met die lysie, Elize, oor watter eienskappe sou jy sê beskik vroue wat hulle vir die Suid-Afrikaanse landboubedryf van groot waarde maak?

ELIZE VAN DER WESTHUIZEN: Ek dink in ’n groot mate – daar’s ’n gesegede wat sê ‘Afrika is nie vir sissies nie’ – ek dink die vrouens in Suid-Afrika en hierdie omgewing het net soveel deursettingsvermoë. Daar’s ’n klomp geleenthede om hulself beter te kwalifiseer en dan om verskillende rolle vol te staan. En ek dink die vroue werk regtig hard om in daai rolle opgeneem te word, hetsy boerdery hetsy professionele posisies soos jy genoem het, daar’s ’n klomp nismarkte wat vrouens wel kan vul. Maar dan is dit ook dan die rol van beskermer, en ons kan dit maar vir mekaar sê, daar’s ’n klomp nood daarbuite – die landelike gebiede veral, en dis waar baie van die boerdery aktiwiteite plaasvind, het verskriklik agteruit gegaan. Ons gesinne het begin uitmekaar uitval, ons kinders het ’n ander rolmodel nodig. So daar’s ’n klompie goed wat vrouens kan, en alreeds begin doen het om ’n verskil te maak. En dit is primêr dit wat ek graag sal wil sien – wat is die rol wat die vrou het om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Hetsy dit kinders is, hetsy dit ander vrouens is of hetsy dit die gesin is. Maar ek dink ons fokus moet al hoe meer skuif na hoe kan ons ’n verskil maak – hoe kan ons dit wat ons het, en dit wat ons geleer het oordra sodat ons ander mense kan bemagtig. En daar’s by AgriSA groot fokus op bemagtiging, om mense die geleentheid te kan gee om kennis te kry, maar ook om ander te kan help. 

ANDRIES VAN ZYL: Elize, wat staan vroue wat die landbousektor wil betree te doen om betrokke te raak of betrek te word – behalwe nou vir AgriSA se prosesse, sy inisiatiewe waarna jy verwys het –  is daar ’n breë nasionale inisiatief aan die gang, of is dit meer kleiner organisasies? Is daar ’n nasionale gekoördineerde aksieplan, hoe werk dit?

ELIZE VAN DER WESTHUIZEN: Tans is daar nog nie ’n nasionale gekoördineerde aksieplan nie, ons werk daartoe. Maar wat ek dink wat belangrik is, AgriSA se strukture het ’n klomp substrukture – daar’s boereverenigingvergaderings, daar’s studiegroepe, daar’s ’n klomp goed as jy in die praktyk van boerdery wil toetree is daar ’n klomp geleenthede en strukture waarin jy reeds betrokke kan word. Die leierskapontwikkeling van enigeiemand in landbou – mans en vrouens – daar is sulke geleenthede, en ek dink ’n vrou moet maar net uithouvermoë hê en begin toetree tot hierdie tipe van gesprekke en forums, en hulle bydra begin maak. Ongelukkig is daar nog nie dieselfde tipe van fokus nasionaal as op ander punte nie. Ek dink die uitdaging is ook, per provinsie en per kommoditeit per streek verskil die behoefte en ook die wyses wat jy kan toetree. So daar’s ook nie ’n ‘one size fits all’ nie. Maar ek dink daar’s baie geleenthede wat ’n vrou, op enige vlak waar sy graag ’n verskil wil maak, wel die geleentheid sal kry om dit te kan doen.

ANDRIES VAN ZYL: Elize, baie dankie vir die gesprek en baie dankie vir jou tyd en alle voorspoed en alles van die beste met jul pogings rondom die bemagtiging van vroue in Suid-Afrikaanse landbou.

ELIZE VAN DER WESTHUIZEN: Baie dankie.

ANDRIES VAN ZYL: Dit was Elize van der Westhuizen, Senior Bestuurder: Arbeidsverhoudinge by AgriSA.

AUTHOR PROFILE

COMMENTS   0

You must be signed in and an Insider Gold subscriber to comment.

SUBSCRIBE NOW SIGN IN

LATEST CURRENCIES  

USD / ZAR
GBP / ZAR
EUR / ZAR
BTC / USD

Podcasts

Instrument Details  

You do not have any portfolios, please create one here.
You do not have an alert portfolio, please create one here.
INSIDER SUBSCRIPTION APP VIDEOS RADIO / LISTEN LIVE SHOP OFFERS WEBINARS NEWSLETTERS TRENDING

Follow us: